Die oogmerk van die insolvensie-wetgewing is om te verseker dat ’n geordende verdeling van die insolvente persoon se bates aan die skuldeisers gedoen word, sê mnr. Japie van Deventer van NJVR Prokureurs in Pretoria, ’n kundige in likwidasies en sekwestrasies.
“Dit is gevestigde reg dat daar tot die beste voordeel van die skuldeisers as geheel (concursus creditorum) opgetree moet word. “ ’n Trustee of likwidateur beklee ’n posisie van vertroue, nie net teenoor skuldeisers nie, maar ook teenoor die insolvente persoon.”
Ongelukkig tree nie alle likwidateurs altyd in die beste belang van die skuldenaar óf die skuldeisers op nie. Van Deventer vergelyk ’n likwidasie- of sekwestrasie- proses as ’n wiel.