
’n Kennisgewing deur Indië se ministerie van omgewing, bosbou en klimaatsverandering in Augustus 2021 beskryf enkelgebruik-plastiek as “plastiekitems wat net een keer vir dieselfde doeleinde gebruik en daarna weggegooi of herwin word”.
Volgens die kennisgewing word gehoop om 21 enkelgebruikprodukte danksy die Julie-verbod uit te faseer. Dit sluit plastiekinkopiesakke in – aanvanklik eers net dié van 75 mikron dikte, en teen Desember ook dié van 120 mikron. Op die lys is ook oorstokkies, eetgerei soos lepels, borde en glase, strooitjies, die stokkies waarop ballonne gedra kan word, plastiekvlaggies en sekere soorte verpakkingsmateriaal.
Luidens ’n artikel op die webblad IndiaToday.in sluit die verbod ook die vervaardiging, aanhou, invoer of vervaardiging van hierdie produkte in. Die items op die lys word selde ná hul aanvanklike gebruik vir nog ’n rede aangewend. PET-waterbottels is nie op dié lys nie.
Daarby wil die Indiese ministerie gemoeid met die kwessie hê dat alternatiewe waar moontlik gebruik word, insluitend sakke en verpakking van herwinne papier en lepels van bamboes.
In reaksie het dr. Sunita Narain, direkteur-generaal van die sentrum vir wetenskap en die omgewing (CSE) in Indië gesê die verbod is nog nie wyd genoeg nie. Sy beskou dit egter as ’n noodsaaklik eerste stap wat kan help verseker dat iets aan die land se grootskaalse rommel- en besoedelingsprobleme gedoen word.
“Ons stede word verswelg met nie-biodegradeerbare plastiekmateriaal, en dit dra grootskaals by tot omgewingstres en -agteruitgang.”
Narain reken dat plastiekitems toenemend herwin of van veilig ontslae geraak moet word.
Volgens die CSE se onlangse nuusbrief het minstens 25 state en gebiede in Indië reeds volgens statistieke van die land se sentrale besoedelingsbeheerraad ’n verbod ingestel teen spesifieke diktes plastiekinkopiesakkies.
Polisiëring ’n probleem
Die polisiëring daarvan bly egter ’n probleem, asook die toepassing van die nuwe Julie-verbod. Daarby is die lys van items wat verbied word, nie vreeslik lank nie, sê mnr. Siddharth Singh, programbestuurder van CSE se afvalbestuurseenheid.
Vroeër vanjaar het die Verenigde Nasies se omgewingskomitee besluit om werk daarvan te maak om teen 2024 ’n wetlik bindende verdrag oor plastiekbesoedeling gereed te hê. Daardeur het VN-lidlande (waaronder ook Indië en Suid-Afrika) die gevaar erken wat plastiek vir mense se gesondheid en die agteruitgang van die omgewing inhou. Daar is genoem dat produkontwikkeling, verbruik en rommelbestuur groter aandag moet geniet, en dat doelbewuste pogings aangewend moet word om plastiekverbruik te verminder.
Na dié aankondiging in Maart het me. Barbara Creecy, Suid-Afrika se minister van bosbou, visserye en omgewingsake, in ’n verklaring gesê Suid-Afrika sal aktief by hierdie proses betrokke wees. Sy het egter later aan plaaslike media gesê dat dit nie sonder meer beteken dat die eenmalige gebruik van plastiek in Suid-Afrika verbied gaan word nie.
Suid-Afrika het reeds in 2020 die sogenaamde Plastiekpakt van stapel gestuur, met Creecy se departement en verskeie besighede wat dit ondersteun het.
- Volgens die webblad PlanetPatrol.co. het meer as 80 lande wêreldwyd teen Junie 2021 reeds een of ander vorm van verbod op enkelgebruikplastieksakke geplaas. Daaronder is 30 lande in Afrika.