Indië beoog om voedselsekerheid en entrepreneurskap in Afrika ’n hupstoot te gee. Die Landboubesigheidsforum vir Asië-Afrika vind van 4 tot 6 Februarie in Delhi in Indië, plaas, en word deur landbouministers van 15 Afrikalande bygewoon.
Rolspelers gaan voorstelle vir samewerking bespreek en by die Afrika-Indië-beraad, wat later vanjaar in Delhi gaan plaasvind, besluite neem.
Indië wil onder andere landbou-ondernemings in Afrika ondersteun en help om moderne laboratoriums op te rig.
’n Tekort aan kundiges
Ten spyte van oorvloedige natuurlike hulpbronne is daar 'n tekort aan kennis en kundigheid in Afrika en daarom is heelwat Afrika-lande netto-invoerders van voedsel. Die grootste deel van die landbou in Afrika bestaan uit kleinboere, wat opleiding en marktoegang kort.
Die Indiese Raad vir Landbounavorsing, Internasionale Landboukonsultasie-groep en die Internasionale Gewasnavorsingsinstituut vir Semi-droë en Tropiese gebiede (ICRISAT) werk saam om landbou in Afrika om te swaai deur Indiese kundigheid en ervaring aan dié arm vasteland beskikbaar te stel.
Van die uitdagings is om kommersiële potensiaal te ontsluit deur die landbou te herstruktureer en landbou-ondernemings winsgewend te maak. Volgens die Wêreldbank kan landbou in Afrika teen 2030 drievoudig groei en in 'n triljoendollar-bedryf omskep word.
Bron: Business Standard.