Die ineenstorting van die 16de grootste bank in Amerika, Silicon Valley Bank (SVB), verlede Vrydag het herinneringe aan die finansiële krisis van 2008 opgediep. In 2008 het die bankrotskap van Lehman Brothers die begin ingelui van ’n resessie en ’n slagting op finansiële markte wêreldwyd.
Een van die redes agter die ineenstorting van SVB, wat grootliks geld aan die tegnologiesektor uitgeleen het, blyk die stygende rentekoerse in Amerika te wees. Dit is die grootste bank sedert 2008 wat ineengestort het en deur Amerikaanse reguleerders oorgeneem is. Onder die Trump-administrasie kon streeksbanke soos SVB onder minder streng regulasies hul sake bedryf – regulasies wat waarskynlik onder die loep geneem gaan word.
Kort op SVB se intuimeling het nóg ’n Amerikaanse bank, Signature Bank gesetel in New York, ook ineengestort.