
Die beeste van hoofsaaklik kleinskaalse boere in die voormalige tuislande het in 2015 net meer as 40% van die totale beeskudde in die land uitgemaak, sê die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV).
Volgens mnr. Kerwin Lebone, ’n ontleder by die SAIRV, meen die grootte van die informele beessektor wys tot watter mate beleidsmakers baie keer die bemagtigingspotensiaal in die breër landbou-ekonomie oorsien.
Die kudde van die kleinskaalse boere het van 4,55 miljoen beeste tot 5,58 miljoen van 1981 tot 2015 gegroei (23%). In 1981 het hierdie kudde 35% van die nasionale kudde van die land verteenwoordig en in 2015 het dit 41% beloop.
Terwyl die kudde van kleinskaalse boere ’n stewige toename getoon het, het die kommersiële beeskudde van 8,35 miljoen tot 8,12 miljoen, of met 3% gedaal.
Lebone sê die kleinskaalse sektor vir die teel van beeste, asook die informele sektor, moet geposisioneer word om ‘n meer prominente rol in die beesbedryf te speel.
Volgens hom het die informele sektor vir die teling van beeste die potensiaal om ’n belangrike, suksesvolle bemagtigingsstorie vir die landbou te word. Die nodige ondersteuning is egter nodig, soos onder meer toegang tot markte, kapitaal en titelaktes vir die grond waarop hulle boer.