
Die informele sektor moet nie as minderwaardig beskou word nie, sê dr. André Jooste, hoof uitvoerende beampte van Aartappels SA.
Jooste het by die Produce Marketing Association (PMA) se Fresh Connections-konferensie in Pretoria gesê die sektor dra by tot voedselsekerheid op huishoudelike en gemeenskapsvlak en is ’n belangrike bemarkingskanaal vir produsente.
“Een van die grootste kopers van aartappels in plattelandse gebiede is die sogenaamde bakkie-mark.”
Sowat 3,6 miljoen mense verdien ’n inkomste in die breë algemene sektor en spits hulle onder meer toe op pendelaars, waarvan daar by net een taxistaanplek in Johannesburg tot 600 000 mense per dag is. Prysvorming is meer buigbaar en die sektor is baie sensitief rakende waarde vir geld.
Jooste sê voorheen is voorspel dié sektor sou krimp soos wat die land ontwikkel, maar die teenoorgestelde gebeur. Informele verkopers van vars produkte sorg vir 55% van aankope by varsprodukmarkte.
Informele handelaars se uitdagings sluit in bemarkings- en verkoopgeriewe, soos bergruimte, vervoerkoste, verpakkingsmateriaal en toegang tot krediet.
Me. Rosheda Muller, adjunkvoorsitter van die Alliansie vir Suid-Afrikaanse Informele Handelaars, het gesê sekerheid oor hul reg om handel te dryf is vir lede die belangrikste kwessie omdat munisipale permitte maandeliks hernieu moet word.
Van die handelaars werk met groot hoeveelhede kontant en daarom het die Johannesburg-mark begin om hulle met veiligheid te help. Mnr. Simangela Sekgobela, hoof uitvoerende beampte van die mark, sê vroue kom met tienduisende rande se kontant uit Mosambiek en slaap die nag by die mark om die volgende oggend produkte te koop.
Volgens hom verkies informele handelaars klein verpakkings en is daar al boere en markagente wat in hierdie behoefte begin voorsien het.