
Landbouverwerking is ’n belangrike opkomende subsektor met die potensiaal om ekonomiese groei aan te moedig en werksgeleenthede te skep, sê dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou.
Sy departement het die inisiatief vir mobiele landbouverwerking op Maandag 9 Mei op Bredasdorp in die Overberg, die Wes-Kaap se tweede grootste landboustreek, bekend gestel.
Meyer sê veral die provinsie se tuinboubedryf en veldgewasse, wat onderskeidelik 46% en 26% van die streek se produksie vorm, sal by die insiatief baat vind.
Hy sê landbouverwerking speel ook ’n belangrike rol om werkloosheid onder die provinsie se jeug teen te werk en met transformasie. Sowat 45% van diegene wat deur die subsektor in diens geneem word, is jeugdiges en 47% is vroue.
Verder dra dit by tot voedselsekerheid omdat dit die raklewe van produkte verleng en voedselvermorsing verminder.
“Die mobiele verwerkingseenhede sal die departement in staat stel om verwerkingstoerusting aan produsente in afgeleë gebiede te verskaf. Verder stel dit die streek in staat om sy huidige arbeidsinname in veral die landbousektor met 22% te verbeter,” sê Meyer.
Mnr. Sakkie Franken, uitvoerende burgemeester van die Overberg-distrikmunisipaliteit, verwelkom die inisiatief en sê dat dit voedselsekerheid en werkskepping in die Overberg sal bevorder.