
Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het in sy jaarlikse begrotingsrede op 22 Februarie inligting verskaf oor staatsinkomste en -uitgawes, asook hoe die begroting toegewys gaan word in die volgende jaar, tesame met ’n raming vir die volgende drie jaar.
Die staatsinkomste het gestyg danksy hoër belastinginvordering. Godongwana het gesê daar is R93,7 miljard meer belasting ingevorder as wat ’n jaar gelede verwag is en R10,3 miljard meer as waarvoor in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober 2022 voorsiening gemaak is. Dit is veral Suid-Afrika se myne wat danksy hoër kommoditeitspryse meer inkomste verdien het wat dié meevaller vir die staat veroorsaak het.
Die tesourie verwag nou dat die inkomste oor die volgende drie jaar R6 miljard hoër sal wees as die R1,69 biljoen (Engels: trillion) wat in die MTBR in die vooruitsig gestel is. Danksy die hoër as verwagte inkomste is geen nuwe belastingverhogings aangekondig nie.
Primêre begrotingsurplus
Die hoër belastinginkomste het ook daartoe gelei dat die land vir die eerste keer sedert 2008 ’n primêre begrotingsurplus toon. Dit beteken indien ’n mens die rente wat die staat op sy skuld terugbetaal, buite rekening laat, is die staat se uitgawes laer as sy inkomste. Omdat die staat egter nou Eskom se skuld oorneem, gaan sy skuldvlakke in 2026 tot 73,6% van die bruto binnelandse produk styg. Dit is kommerwekkend hoog vir ’n ontwikkelende land, soos Suid-Afrika.
Die gekonsolideerde staatsbesteding sal in 2023-’24 tot R2,24 biljoen styg. Hiervan sal meer as die helfte (R1,35 biljoen) aan maatskaplike uitgawes, soos onderwys, gesondheid en maatskaplike toelaes, bestee word.
’n Bykomende R45,6 miljard sal in die huidige boekjaar opsy gesit word om die verhoging in staatsdienssalarisse in 2023-’24 te help dek, het Godongwana gesê. Die staat maak voorsiening vir ’n salarisverhoging van gemiddeld 3,3% oor die volgende drie jaar vir staatsdienswerkers.
Staatsbeheerde instellings het ook heelwat hulp van die minister gekry, maar met voorwaardes. Die SAA sal R1 miljard kry om hom met sy sakeredding te help. Die Suid-Afrikaanse poskantoor het ’n hulppakket van R2,4 miljard gekry. “Albei toewysings is aan streng voorwaardes onderworpe om volhoubaarheid, verantwoordbaarheid en deursigtigheid te verseker,” het Godongwana gesê. “As dié voorwaardes nie nagekom word nie, sal die geld nie vloei nie.”
Verdeling van inkomste
Toewysings aan provinsies en munisipaliteite is op mediumtermyn verhoog om dringende uitgawes aan te pak. Godongwana het gesê die begrotingstoewysing vir ál drie staatsfere word op mediumtermyn met R92,7 miljard tot R2,17 biljoen verhoog.
“Hierdie toewysings sal die finansiële druk in ’n mate verlig, veral op gebiede soos gesondheid, opvoeding en die lewering van gratis basiese dienste waar die koste van dienslewering styg.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.