’n Amptenaar het verkeerde inligting aan die Parlement verskaf oor me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se verblyf van R1,6 miljoen in luukse-hotelle.
Die DA het wil hê dat die Openbare Beskermer die klag van beweerde verkwistende hotelverblyf teen Joemat-Pettersson ondersoek. Joemat-Pettersson se verblyfpatroon in hotelle het in ’n parlementêre vraag uitgekom.
Mnr. Lourie Bosman, DA-LP, het uitgewys dat sy vir lang tydperke in duur hotelle gewoon het en dat daar soms besprekings vir dieselfde tyd by twee verskillende hotelle was.
Ampswoning
Landbouweekblad verneem egter die ampswoning in Kaapstad wat die Departement van Openbare Werke aan haar toegeken en waarin sy vir meer as ’n jaar gewoon het, het ’n stukkende toilet en badkamer, die elektriese bedrading hang los en die dak lek en is glo besig om in te val.
Mnr. Selby Bokaba, haar woordvoerder, het gesê Openbare Werke het nooit die huis kom regmaak nie. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het toe self ’n huis vir haar in Rondebosch, Kaapstad, gekry om te huur.
“Openbare Werke wou nie eens haar meubels na die huis in Rondebosch vervoer nie. Ons personeel het haar gehelp trek.”
Joemat-Pettersson het sowat R200 000 uit haar eie sak aan huurgeld aan die huis bestee voordat die Departement van Openbare Werke in Oktober vanjaar die huurooreenkoms vir die huis oorgeneem het.
Bokaba het gesê haar departement moes ook in Pretoria self ’n huis soek omdat Openbare Werke dit nooit gedoen het nie. Die minister het in hotelle gebly en in Augustus verlede jaar in die huis hier ingetrek wat deur die Departement van Openbare Werke betaal word.
Antwoord 'hersien'
Bokaba verduidelik dat die antwoord op die parlementêre vraag hersien sal word, omdat die helfte van die inligting daarop verkeerd is.
“Sy het nooit in ’n hotel in Kaapstad tuisgegaan nie. Die amptenaar het konferensiekamers in hotelle verkeerdelik as hotelverblyf aangeteken. Ons sal die Parlement om verskoning vra vir die fout wat gemaak is en die regte inligting weergee.”
Dit staan die DA vry om die kwessie by die Openbare Beskermer aan te meld. Ons sal ons samewerking aan die Openbare Beskermer gee en al die inligting verskaf, het Bokaba gesê.
26 Oktober 2011