
Die toekoms van die inmaakvrugtebedryf is onseker nadat die grootste verwerker agt maande gelede met onderhandelings vir nuwe leweringskontrakte begin het.
Tydens ’n inmaakvrugte-inligtingsdag in Oktober 2016 op Worcester, het mnr. Wiehahn Victor, uitvoerende hoof van die Inmaakprodusentevereniging (IPV), goeie vooruitsigte vir die plaaslike inmaakbedryf voorgehou danksy misoeste en rampe in verskeie ander lande.
Dié hoop is egter gou verydel toe Langeberg & Ashton Foods produsente tydens die oesseisoen laat weet het hulle gaan van ’n sekere datum af slegs perskes inneem teen sapgraad-pryse. In daardie stadium was nog sowat 6000 tot 8000 ton vrugte in die bedryf wat geoes moes word.
Geweldige uitdagings
“Dit was ’n seisoen gekenmerk aan geweldige krisisse en uitdagings,” het Victor tydens die IPV se algemene jaarvergadering op Worcester gesê.
Langeberg & Ashton Foods het ook kennis gegee dat hy die langtermyn-kontrakte met produsente opskort. Die komende seisoen sal die laaste wees waarin boere volgens dié kontrakte vrugte kan lewer.
Mnr. Jan Crafford, vrugteboer van die plaas Lemoenshoek naby Barrydale, sê die verwerker se aankondiging dat hy vloerpryse vir die res van die seisoen gaan betaal, het gekom drie dae voor hy sou begin lewer. Hy boer met laat kultivars, soos Kakamas en Cascade. “Hulle het ons kele met ’n stomp mes afgesny.”
Klousule in kontrakte
Die verwerker kon dit doen op grond van die force de majeure-klousule in die kontrakte (dis ’n klousule wat die partye vrystel daarvan om hul kontraktuele verpligtinge na te kom in die geval van oorsake wat nie voorspel kon word nie of buite hul beheer is).
Crafford sê boere het hul vrugte eerder aan smouse verkoop, wat beteken net meer as 2500 ton van die perskes is uiteindelik aan verwerkers gelewer. Hy het ’n groot deel van sy oes aan smouse verkoop, teen R1500 tot R2000 per krat (sowat 450 kg).
“Ons is uiteindelik sowat R2150 per ton betaal deur die verwerker. Dis beter as die puree- of sapprys, maar baie swakker as die inmaakprys.”
Inmaakprys
Aan die begin van die seisoen was die inmaakprys sowat R4100/ton, maar het mettertyd afgeneem tot R3800/ton.
“Dit het bykans R1 miljoen uit my begroting geneem. Hoe moet ’n mens dit hanteer? Ek gaan dit nie oorleef nie, maar die fabriek hardloop weg van sy verantwoordelikheid.”
Hy is veral ontsteld omdat die verwerkers boere die afgelope paar jaar aangemoedig het om laat kultivars te plant, maar toe nie kans gesien het om die vrugte teen inmaakpryse te koop nie. “Dit was ’n gemors van ’n seisoen.”
Sterk rand dra by
Mnr. Nassos Martalas, uitvoerende bestuurder van Langeberg & Ashton Foods, sê net die “stert van die seisoen” is deur die minimum pryse geraak. Volgens hom beloop dit sowat 2700 ton, oftewel 5%, uit hul inname van 65 000 ton perskes en 2-3% van hul peer-innames.
“Die rand het begin versterk, wat beteken het ons sou ons produkte teen verliese moes verkoop. Ons moes stappe neem om ons besigheid se lewensvatbaarheid te beskerm.”
Martalas sê die inmaakbedryf het vyf uitstekende jare agter die blad waartydens perskepryse teen ’n saamgestelde koers van 14-15% per jaar gegroei het. Kwotas het ook nie in hierdie tydperk gegeld nie.
Nou haak dit weer
“Ons het goeie tye gehad, maar nou haak dit weer. Dit herinner my aan die tyd tussen 2009 en 2011.”
Volgens Victor bestaan die langtermynkontrakte tussen verwerkers en produsente al sedert 1997.
“Die kontrakte gee riglyne ten opsigte van volumes en pryse, waarvan die pryse twee komponente het, die voor- en agterskotte. Die formule is in die kontrakte vasgemaak. Die kontrakte skep vertroue vir die lang termyn en gee stabiliteit. As ’n produsent of verwerker wil uitklim, moet hy twee jaar kennis gee.”
Nuwe kontrakte
Langeberg & Ashton Foods het in Julie verlede jaar aangedui hulle wil nuwe kontrakte laat opstel. Die onderhandelingsproses duur nou al agt maande lank. Die nuwe kontrakte sal vanaf die 2018/19-seisoen geld.
“Daar is vyf elemente wat hulle wil verander. Dit wat met prys en volume verband hou, pas ons nie,” het Victor gesê.
Martalas wou nie uitbrei oor veranderinge in die kontrakte nie, maar sê een van die belangrikste aspekte is dat die ou kontrakte op hektare, en nie tonne nie, gebaseer was.
Natuurllike buffer
“Ons is tevrede daarmee dat die prys wat ons vir die vrugte betaal, verwant moet wees aan die pryse wat ons in die markte realiseer. Dit gee vir ons en die produsente ’n natuurlike buffer,” het hy met verwysing na die prysmeganisme, wat uit voor- en agterskotte bestaan, gesê.
Volgens Victor is die verhoudings tussen die produsente en verwerkers “besoedel”. Daar sal komende week weer vergaderings hieroor plaasvind. “Die probleem is ons het net twee inmakers en die ander een is vol.”
Martalas sê hy hou daarvan om te dink dat hul verhouding met die bedryf “oop” is en dat hulle gereeld met die aangewese amptenare gesels.
“Dit was egter vir almal ’n moeilike jaar met die wisselkoers, die ineenstorting van die mark vir perskepuree en die probleme soos die droogte wat die produsente in die gesig staar. Niemand is in ’n gelukkige plek nie, maar ons bestaan al vir amper 80 jaar en ons sal hopelik oor 80 jaar steeds bestaan.”