
Senior bestuurslede van Tiger Brands het gister (27 April) met mnr Alan Winde, Wes-Kaapse premier, dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR van landbou, me. Mireille Wenger, Wes-Kaapse LUR van finansies en ekonomiese geleenthede, asook ander belanghebbendes, onder meer Wesgro, vergader oor die toekoms van die inmaakfabriek.
Sedert dit aan die lig gekom het dat dié fabriek moontlik gaan sluit en meer as 4 000 werksgeleenthede as gevolg daarvan in gedrang gestel kan word, word gesoek na potensiële kopers om dit oor te neem.
Winde sê dit is die tweede keer dat hy met Tiger Brands vergader. Wesgro behou ook kontak met die maatskappy ten einde ’n blywende oplossing vir die probleem te vind.
Me. Mary-Jane Morifi, hoof van korporatiewe sake en volhoubaarheidsbeampte by Tiger Brands, het op die vergadering gesê daar word steeds gepraat met partye wat belang stel om die L&AF oor te neem. Tiger Brands het ook ander partye wat belang stel om die fabriek oor te neem, versoek om hom te kontak.
Volgens Morifi is dit in die belang van almal betrokke dat die inmaakfabriek op ’n verantwoordelike manier verkoop word sodat sy voortgesette bedrywighede die indiensneming van permanente en seisoenwerkers sal volhou.
Sy het bygevoeg dat Tiger Brands ten einde werksgeleenthede te bewaar aan die konsortium vrugteboere, wat belang stel om die inmaakfabriek te koop, ’n aanbod gemaak het om hulle ’n verskaffersooreenkoms en ’n gewaarborgde afset te bied as hulle die nodige geld verkry om die fabriek aan te hou bedryf.
Dié konsortium kon egter tot dusver nog nie daarin slaag om die vereiste R200 miljoen tot R300 miljoen te kry nie.
Meyer sê hy het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, se steun versoek soos uiteengesit in haar departement se meesterplan.