Die koste van kunsmis, diesel en die instandhouding van vragmotors het die afgelope jaar ver bó inflasie gestyg.
Luidens die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se verslag oor die prysstyging van sekere produksiemiddele het die prys van kunsmis, die grootste deel van ’n boer se veranderlike koste, sedert Januarie verlede jaar tot Januarie vanjaar dramaties gestyg.
Die prys van mono-ammonium sulfaat (MAP) het in dié tyd 17,9% duurder geword, die prys van ureum 29,3% en die prys van kaliumchloried 25,8%. Die olieprys het met 15,6% gestyg.
Petrol is nou 21,5% duurder en diesel 31,1%. Vanaf 2004 tot verlede jaar het die bedryfskoste op ’n twee-as vragmotor met 120,6% gestyg, op ’n 6-as vragmotor met 126,5% en op ’n 7-as vragmotor met 168,7%.
Invloed van stygings
Prof. André Jooste, senior ekonoom van die NLBR, sê die invloed van dié stygings verskil tussen waardekettings omdat die vervoerkomponent nie almal dieselfde raak nie. “Die koringketting sal byvoorbeeld swaarder geraak word as die mielieketting.”
Jooste sê dié kostestygings kan die volhoubaarheid van die kommersiële landbou in die gedrang bring. “Dinge is selfs moeiliker vir nuwe toetreders en daar moet in gedagte gehou word dat volhoubaarheid die sleutel is tot die vestiging van nuwe boere in ’n land met ons beleidsomgewing.”
Die dieselrabat versag wel die invloed van kostestygings, maar nie genoeg nie. “Boere het vanweë hul posisie in die mark ook nie die vermoë om kostedruk na ander belanghebbendes in die waardeketting oor te dra nie.”
Jooste sê verbruikers kan altyd druk op ’n ketting uitoefen deur minder van daardie produk te koop indien dit te duur word.
11 April 2012