
Inskrywings vir volgende jaar se SA suiwelkampioenskap, wat jaarliks sowat 900 inskrywings van groot, middelslag én klein vervaardigers lok om mee te ding om die titel as SA kampioen, die Qualité-merk van gehalte en die Produk van die Jaar, open op Maandag 10 Januarie.
Mnr. Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, sê die doel van die kampioenskap is om uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf te erken en te bevorder. “Die kampioenskap het die nasionale maatstaf geword waarvolgens vervaardigers – van internasionale maatskappye tot agripreneurs – hulself jaarliks teen mekaar meet.
“Enige suiwelprodusent wie se produkte in die handel beskikbaar is, kan inskryf vir die kampioenskap, wat meer as 100 klasse vir kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander produkte insluit.
“Die wenners in die onderskeie klasse word as SA kampioen bekroon. Produkte van uitsonderlike gehalte wat ’n spesifieke minimum punt op die internasionale telkaart behaal het, ontvang die Qualité-toekenning, wat deur die bedryf erken word as die enigste merk van gehalte. Ná die eerste ronde beoordeling deur sowat 60 beoordelaars wys ’n onafhanklike paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan.”
Aanlyn inskrywings open op Maandag 10 Januarie 2022 op www.cheesesa.co.za. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Dinsdag 1 Februarie 2022. Beoordeling vind van Donderdag 24 Februarie tot Vrydag 25 Februarie 2022 in die Percheron-saal op Elsenburg plaas. Die SA suiweltoekennings word op Vrydag 25 Maart 2022 by Cavalli-landgoed op Stellenbosch aangebied.
Besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za vir nog inligting.