Die Landbounavorsingsraad (LNR) het bekend gemaak dat die diereaantekeningstelsel Intergis, wat na Pretoria verskuif is, in werking gestel is.
Intergis (Integrated Registration and Genetic Information System) was voorheen by SA Stamboek in Bloemfontein gehuisves en op kontrakgrondslag vir die LNR bedryf.
’n Herrie het oor die verskuiwing ontstaan en SA Stamboek het besluit om sy eie diens vir diereproduksie-aantekeninge te skep.
Dr. Shadrack Moephuli, voorsitter en uitvoerende hoof van die LNR, het gesê Intergis is nou ten volle toeganklik vir vleis- en melkboere. Ál die dienste vir die vleis- en melkskema is beskikbaar via Logix wat op die webblad www.intergis.agric.za bereik kan word.
Alle deelnemers aan die diereverbeteringskemas word genooi om die stelsel te gebruik. Moephuli sê hy het die versekering aan telersverenigings en gebruikers gegee dat die verskuiwing met die grootste omsigtigheid sou geskied sonder om die data en die stelsel in gevaar te stel.
Ten volle in werking
“Ek is verheug om bekend te maak dat die deurslaggewende stappe in die integrasieproses suksesvol afgehandel is. Die stelsel is hervestig in ’n gebou van die LNR in Pretoria waar dit aanmekaar gesit en weer ten volle in werking gestel is,” sê Moephuli.
Hy sê die manier waarop data tussen Intergis en die boer beskikbaar gestel word, word ondersoek om dit meer gebruikersvriendelik te maak. Toegang vir kleinvee- en varkboere word ook ondersoek. Daar word ook na ander maniere gekyk om die stelsel te verbeter en met internasionale navorsingsintellings te skakel.
“Ek het voorheen gesê as Suid- Afrika internasionaal mededingend wil wees, moet ons ’n betroubare naspeurbaarheidstelsel vir ons diere en diereprodukte instel. Intergis het ’n module wat handelaars in staat sal stel om belangrike inligting, soos die aantal diere wat landwyd vir die mark beskikbaar is, te bekom.”
9 Mei 2012