Plaasmoorde in Suid-Afrika was in die internasionale kollig toe ’n mosie wat gevra het dat die wêreld daarvan kennis moet neem, met ’n klein meerderheid in die Nederlandse parlement verwerp is.
Die TLU SA sê verskeie partye, waaronder die SGP, PVV en Groenlinks het gepleit dat internasionaal kennis geneem moet word van die plaasmoorde in Suid-Afrika en dat die Nederlandse regering selfs kundigheid moet aanbied om die probleem te help oplos. Die Nederlandse minister van buitelandse sake was glo ten gunste van die mosie.
“Al is die mosie afgestem en daar gaan geen hulp aangebied is nie, beteken dit tog dat toenemend kennis geneem word van die haglike omstandighede waaronder ons boere moet probeer voedselsekerheid handhaaf,” sê mnr. Louis Meintjes,die TLU SA-voorsitter.
“Die TLU SA is verheug daaroor dat daar deurbrake kom in sy aksies om die wêreld se oë op die vergrype teen Suid-Afrikaanse boere te laat fokus. Ons wil nie graag ons vuil wasgoed voor die oë van die internasionale gemeenskap was nie. As die Suid-Afrikaanse Regering egter nie self iets aan die saak wil doen nie, het ons geen ander keuse as om die wêreld in te lig en daardeur druk van buite af uit te oefen op die Suid-Afrikaanse regering,” sê Meintjes.
1 Desember 2011