
Uitbreiding in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is boaan die agenda van ’n onderneming wat gesamentlik deur Bunge Bpk. en Senwes Bpk. bedryf word.
Bunge EMEA (Bunge Europe, Middle East and Africa) word reeds sedert 1 Oktober 2011 bedryf. Dié groep hanteer die invoer en uitvoer van mielies en koring in die streek.
Luidens ’n verklaring het Bunge aangedui dat hy ’n opsie wil uitoefen om ’n belang van 50% in die bestaande, gevestigde Afrika-strukture van Senwes te verkry. Dié opsie is in ooreenstemming met die oorspronklike ooreenkoms wat die twee maatskappye aangegaan het. “Die bykomende belegging deur Bunge bevestig die maatskappy se verbintenis tot die uitbreiding van die onderneming in Afrika,” lui die verklaring.
Afrika
Senwes se Afrika-strukture sluit in Senwes Malawi, Senwes Zambië, Senwes Mosambiek en Senwes Kenia. Senwes Zimbabwe gaan in die nabye toekoms tot die lys bygevoeg word. Dié entiteite spesialiseer in graanverhandeling en vorm deel van die Suid-Afrikaanse maatskappy se strategie om in die SAOG ’n geïntegreerde graanbemarkings- en graanverhandelingshuis te vestig.
“Bunge se kundigheid in internasionale graanmarkte en risikobestuur, saam met Senwes se vermoëns ten opsigte van verkryging en goeie verhouding met produsente, sal die gesamentlike onderneming in staat stel om sy bedrywighede in the streek op ’n volhoubare wyse te ontwikkel,” aldus Senwes. Die samewerking sal op die uiteindelik bydra tot voedselsekerheid in die streek.
Bunge lewer ’n wye reeks dienste waaronder die koop, verkoop, opberging, vervoer en verwerk van oliesade. Dit is in 1818 gestig en is in White Plains, in New York, gevestig.