Die verwoestende vloede wat Queensland in die nadraai van die sikloon Seth getref het, het selfs die gerekende Australiese buro vir meteorologie onkant betrap.
Daar was ernstige vloede in die Wide Bay- en Burnett-gebied noord van Brisbane wat die sluiting van snelweë gedwing het, talle dorpe van die buitewêreld afgesny het en nóg meer huishoudings sonder elektrisiteit gelaat het.
Die dorpie Marodian het meer as 670 mm in die 24 uur tot 09:00 op 8 Januarie gemeet. Talle mense moes uit hul huise en motors gered word, en een man het in sy motor verdrink.