’n Genetiese redigeringstegniek waardeur koringopbrengs beduidend verhoog kan word, is ontdek deur navorsers verbonde aan die instituut vir genetika en ontwikkelingsbiologie by die Chinese akademie van wetenskappe, saam met navorsers van die Peking-universiteit.
Die gene van Brachypodium distachyon, ’n indringergrasspesie, is gebruik om die ontwikkeling van aartjies te bestudeer. Die navorsers het van dié bevindinge gebruik om die koringgeen te redigeer met Crispr/Cas9-tegnologie.
In veldtoetse het van die koring wat só geteel is, meer pitte per aartjie geproduseer as wilde koring, wat dus dui op ’n hoër opbrengs. Die navorsing is in Nature Plants gepubliseer.