Droogte en ongewone hitte het die soutvlakke in die delta waar die Po-rivier in die Adriatiese See invloei, verhoog tot op die vlak waar dit rysaanplantings en ander oewerplante laat vrek. Watervloei in die delta uit die Po-rivier is op ’n geskiedkundige laagtepunt.
Dit het verlede maand net 95 kubieke meter per sekonde beloop, ’n tiende van die jaarlikse gemiddelde vanweë ’n gebrek aan wintersneeu en lente- en somerreën.
In die afgelope twee maande kon boere nie uit die rivier besproei nie. Die impak kan meer blywend wees omdat soutwater al hoe verder die binneland invloei en in akwifers insyfer. Soutwater-indringing in die binneland het gestyg van 2 km in die 1960’s tot 10 km in die 1980’s tot 38 km vanjaar.