
Die internet kan trekker- en werktuigtegnici wat met steeks masjinerie sukkel, help om vinnig oplossings van kollegas elders in die wereld te kry.
Die gebruik van tegnologie in boerdery word vandag as vanselfsprekend beskou, maar toe John Deere 175 jaar gelede ontstaan het, het dit 100 uur van hande-arbeid geverg om een ton koring te produseer. Vandag duur dit net een uur, danksy tegnologie.
Só sê mnr Corey Reed, vise-president van bemarking by John Deere se hoofkantoor in Moline, Illinois in Amerika. Hy was een van die genooide sprekers by John Deere se driedaagse skou in Midrand, Gauteng.
Terwyl dié bekende maatskappy sy 175ste bestaansjaar vier, is John Deere Suid-Afrika vanjaar 50 jaar oud. Reed het gesê dié maatskappy is nog net so toegewyd soos in die beginjare en fokus daarop om produktiwiteit in die landbou in Suid-Afrika en Afrika suid van die Sahara na nuwe hoogtes te neem.
Mnr. Len Brand, besturende direkteur van John Deere se Suid-Afrikaanse tak, sê weens die maatskappy se wêreldwye verspreiding – die maatskappy het takke in meer as 100 lande – is dit moontlik om probleme via tegnologie en die internet vinnig op te los.
Brand sê ’n tegnikus wat iewers in die wêreld op ’n plaas met ’n steeks werktuig staan, kan nou ’n beskrywing van dié knelpunt op een van die maatskappy se spesiale webwerwe laai, en hy sal binne 20 minute ’n oproep kry van ’n John Deere-kollega in ’n ander land wat ’n oplossing sal aanbied.
Brand het gesê die maatskappy se reuse nuwe aanleg naby Kempton Park sal sy deure in September open. Dié pakhuis is drie keer groter as die bestaande een, en sal ’n nog beter diens aan die landbou lewer.
* John Deere in Amerika gaan een van sy aanlegte, dié in Waterloo, Iowa, teen R518 miljoen (VSA$70 miljoen) uitbrei. Die aanleg bou van die maatskappy se groot trekkers wat internasionaal bemark word. ’n Uitstekende vraag heers tans wêreldwyd na dié trekkers.
2 Maart 2012