Maande nadat mnr. John Bullen, ’n boer van Badfontein, in Botswana vermis geraak het, verskyn sy naam steeds op Interpol se lys van vermiste mense.
Bullen, ’n wildboer, het in September verlede jaar vermis geraak tydens ’n vakansie saam met sy vrou, Lorraine, in die Chobe-natuurreservaat. Die Bullens se Land Rover het in ’n rivierwal vasgeval en mnr. Bullen het met knap voorrade van onder meer ’n bottel water, twee blikkies vrugte en Provitas, gaan hulp soek. Hy is sedertdien nog nie weer gesien nie.
Volgens mev. Bullen het hulle geen taal of tyding van haar man gehoor nie en niks van hom teruggekry nie, berig Die Burger. Die Botswana-polisie en nooddienste van Botswana en Zambië het twee en ’n halwe maande lank na Bullen gesoek.
Twee helikopters is gebruik en 140 mense het aan die soektog deelgeneem.
Interpol, die internasionale polisie-organisasie, het ook aan die soektog na Bullen deelgeneem.
Sy vrou vermoed óf wildstropers óf wilde diere het Bullen vermoor. ’n Roudiens is in Desember gehou om van hom afskeid te neem.
Bron: Die Burger
10 Mei 2012