Invoerders van Suid-Afrikaanse wyn eis nou die versekering dat die wyne wat hulle invoer, nie op die plase gemaak word waaroor in die verslag van die Human Rights Watch (HRW) geskryf word nie.
Dié verslag het onlangs opslae gemaak met bewerings dat werkers op wyn- en vrugteplase in die Wes-Kaap sleg behandel word.
Negatiewe prentjie
Die prentjie wat die verslag skets, is dat Wes-Kaapse plaaswerkers in onleefbare huise woon, sonder veiligheidstoerusting aan gifstowwe blootgestel word, nie toegang het tot toilette of drinkwater wanneer hulle werk nie en dat hulle verhinder word om unies te stig.
Beroepe is uit verskeie oorde gedoen dat die plase en boere wat plaaswerkers sleg behandel, uitgewys word, maar die HRW wil dit glo uit vrees vir viktimisasie nie doen nie.
Gerugte doen nou die ronde in die buiteland dat Kaapse wyn goedkoper is omdat werkers so sleg betaal word.
Antwoorde geëis
Me. Su Birch, uitvoerende hoof van Wines of South Africa (Wosa), sê invoeragente van Amerika, Europa en Kanada eis nou antwoorde oor die bewerings wat in die verslag gemaak is.
“Ons ontken nie dat die navorsers sekere bevindinge gemaak het nie. Dit bly egter ’n eensydige verslag,” sê sy.
Mnr. André Morgenthal, woordvoerder van Wosa, het ’n beroep op die Regering gedoen om geldelik by te dra om plaaswerkers te help.
“Die Regering gee geen ondersteuning met behuising vir mense op plase nie. Ons vra die Regering om plaaswerkers geldelik te help.”
Bron: Die Burger
30 Augustus 2011