
Hoender uit die Europese Unie (EU) word danksy die vryehandelsooreenkoms tussen Suider-Afrikaanse Doeane-unie en die EU tariefvry ingevoer. Invoer van stukke aan die been het egter so dramaties gestyg dat die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) in Februarie vanjaar by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) om 'n beskermingstarief van 37% aansoek gedoen het.
Mnr. Marthinus Stander, uitvoerende hoof van Country Bird, sê in 'n SAPV-verklaring Itac het in sy oorspronklike sogenaamde wesentlike feitebrief met die bedryf saamgestem dat EU-invoer tot ernstige markverwringing en –skade lei.
“Ons weet uit bitter ervaring dat die Most Favoured Nation-tarief van 37%, wat van toepassing is op alle lande buiten die EU, skaars die vloed van invoer stuit, so dit slaan 'n mens dronk hoe Itac kan glo dat 13,9% ooit kan werk,” sê Stander oor die tarief wat op 15 Desember afgekondig is.
Werkverliese
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods, sê die tarief is “belaglik” en sal niks doen om die moontlike werkverliese te keer nie. Mnr. Scott Pitman, uitvoerende direkteur van Rainbow Foods, sê die 13,9% is heeltemal te laag en dus ondoeltreffend. Hy het bygevoeg tariewe is nie meer 'n oplossing vir die bedryf nie.
Uitvoerders het volgens baie min ander plekke waar hulle hul hoender-agterkwarte kan “stort”, omdat ander lande tegniese versperrings gebruik om hul pluimveebedrywe te beskerm. Uitvoerders sal dus bloot hul verkoopspryse aan Suid-Afrika van die tarief verlaag.
‘Regering doen te min’
“Dit is deesdae die ongelukkige realiteit in die pluimveewêreld, omdat ander regerings skynbaar meer waarde as Suid-Afrika aan werkgeleenthede en voedsekerheid heg,” sê Pitman. Volgens Schutte doen Suid-Afrikaanse wet- en beleidmakers, vergeleke met ander lande se regerings, min om die landbousektor en die nasie se voedselsekerheid te beskerm.
“Dit is teleurstellend as 'n mens sien hoe ander regerings, soos Amerika se onlangse ingrypings met die Amerikaanse wet op groei en geleenthede (Agoa), werk om hul bedrywe te beskerm, om werkgeleenthede in landelike gebiede te skep en behou, en hul lande se toekomstige voedselsekerheid te verseker,” sê Schutte.
Volgens Stander is die enigste wenners “die paar winsbejagte invoerders in wit besit wat aan die Assosiasie van Vleisinvoerders en –uitvoerders (Amie) behoort”. Invoer maak Amie die enkele grootste “pluimveeprodusent” en Itac se besluit plaas die land se voedselsekerheid nou in Amie se hande, sê Stander.
Schutte voeg by dat 'n mens nie voedselsekerheid op invoer kan bou nie. “ ...want wanneer meer winsgewende markte hul voordoen, droog hierdie invoer op, wat rakke leeg laat en mense sonder voedsel laat,” sê Schutte.