
Mnr. Chemy Barkan, voorsitter van die landboukomitee van die munisipaliteit Arava, sê hoewel hulle vanweë 'n waterdraer in die gebied onafhanklik van Israel se ander waterbronne soos die Galileameer en herwonne water is, is die gehalte van die water deesdae baie swak. "Dis brak, maar toe ek hier gekom het, kon ons dit nog drink. Nou kan ons nie meer nie."
Die munisipaliteit Arava wat in die Negevwoestyn is, sluit in vyf moshavs waarop 550 gesinne boer. Hul grootste koste-item is arbeid. Hulle gebruik werkers uit Thailand wat toegelaat word om vir vyf jaar te bly, maar moet 'n belasting aan die regering betaal omdat hulle nie Israeli's in diens neem nie. Volgens Barkan is die meeste jong Israeli's nie baie gretig om op 'n permanente basis harde plaaswerk te doen nie.
Die moshav het 'n Medjool-dadelplantasie wat gesamentlik bestuur word, enkele boere het melkerye en kweek blomme, maar die meeste van die boere op moshav Faran kweek soetrissies, hoofsaaklik vir uitvoer na die Europese Unie en Rusland. Die afgelope drie seisoene is die pryse wat hulle daarvoor kry, baie laag. Barkan sê hulle besef hulle moet diversifiseer sodat hulle nie so afhanklik van die soetrissies is nie, en is besig om tafeldruiwe, subtropiese vrugte, kleinvee en medisinale plante te ondersoek.
'n Ander ontwikkeling wat hulle geknou het, is die oopstel van bemarking aan ander maatskappye. Alle boere se vrugte is in die verlede onder die handelsmerk Carmel uitgevoer. Nou is daar 35 bemarkingsmaatskappye. Dit veroorsaak dat monitering van gehalte en produkbevordering in die slag gebly het.