
Byna stilletjies en ongesiens het een van die grootste veilings van jaaroud-vullens in die land die kasregisters in die hartjie van Kaapstad laat klingel toe 180 jaaroud-vullens verkoop is.
Die 2014 Cape Premier Yearling Sales is oor twee dae in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum (Kiks) aangebied. Die omset van die veiling was net meer as R103 miljoen en 180 vullens het teen 'n gemiddeld van R572 361 stuk van eienaars verwissel. Die hoogste prys van R3,2 miljoen is twee keer behaal.
Twee vullens behaal R3,2 miljoen elk
Die twee vullens wat elk R3,2 miljoen behaal het, is Zud Wes, 'n hingsvul uit Western Winter (VSA) en Zaitoon van die Main Chance Farms by Robertson. Die koper is mnr. Mike Bass. Die ander perd is die merrievul Song of Happiness uit Giant’s Causeway (VSA) en Captain’s Lover van die Drakenstein Stoetery by Simondium. Die koper is Badgers Bloodstock.
Vir 'n terloopse besoeker aan die Kiks in Kaapstad – neffens die V&A Waterfront – sou die reuk van 'n plaas dalk vreemd opval, maar by nadere ondersoek sou 'n mens nie anders kon as om die hande saam te slaan nie. In een van die binneruimtes, waar kunsuitstallings en belangrike internasionale konferensies al aangebied is, is rye stalle met ruim ooptes tussenin opgerig vir die 202 vullens op die katalogus.
In die woorde van Muis Roberts, een van Suid-Afrika se legendariese jokkies: “Het jy al 'n rustiger omgewing gesien waarin diere versorg is voor só 'n belangrike veiling?” En dan antwoord hy self: “Ek het al baie veilings oor die wêreld heen bygewoon, maar die geriewe wat hier geskep is, is uitsonderlik!”
Klik hier vir meer inligting oor die veiling, asook ' n foto-album.