Die jagbedryf is belangrik vir die Suid-Afrikaanse ekonomie rakende die skep van inkomste en werkgeleenthede, dui navorsing van die Noordwes-universiteit (NWU) aan.
Proff. Melville Saayman en Peet van der Merwe van die Instituut vir Toerisme en Vryetydstudies aan die universiteit se Potchefstroom-kampus, sê Limpopo genereer tans die grootste inkomste uit die bedryf. Hulle ondersoek die bedryf sedert 2005.
Die totale ekonomiese impak van jag vir dié provinsie beloop R2,6 miljard per jaar. Die bedryf verskaf 9 778 regstreekse werkgeleenthede aan plaaslike gemeenskappe.
Die afwesigheid van die bedryf sou tot ’n verlies van 17 806 regstreekse en onregstreekse werkgeleenthede lei. “Verder word beraam dat R1,1 miljard van vergoedings in Limpopo nie sou plaasvind indien jag nie bestaan het nie,” lui ’n verklaring.
R6 miljard vir SA
Van der Merwe sê volgens die data van die 2008/’09-boekjaar dra jag R6 miljard tot die land se inkomste by, en aangesien ander dele van die bedryf gegroei het, verwag hulle dat dié bedrag ook toegeneem het.
Die Vrystaat en Noord-Kaap is die twee ander provinsies waar jag ’n belangrike rol speel. In al twee provinsies beloop die bedryf se jaarlikse inkomste sowat R1,3 miljard, terwyl dit 9 072 en 4 558 werksgeleenthede onderskeidelik in die provinsies verskaf.
Biltong- en trofeejag
Biltongjag is steeds die afdeling wat die grootste inkomste genereer, met ’n totale inkomste van R5 miljard vir 2009. In dieselfde tydperk het trofeejag R973 miljoen ingebring. Die Oos-Kaap is die provinsie waar die meeste trofeejag plaasvind.
Die besteding van biltongjagters aan hul stokperdjie het sedert 2005 van R15 752 na R25 102 in 2009 toegeneem, en dít ten spyte van die resessie en die stadige ekonomiese herstel.
Bemark die bedryf
Van der Merwe en Saayman meen die provinsies soos Limpopo, se provinsiale regerings moet die bedryf begin bemark en ondersteun.
“Weens die voortgesette ongunstige publisiteit rakende jag moet die jaggemeenskap (ook) voortgaan om sy bydrae tot die plaaslike en nasionale ekonomie, maatskaplike opheffing en natuurbewaring uit te wys,” aldus die verslag.
10 Mei 2011