Die provinsiale departement van landbou, omgewingsake, omgewings- en landelike ontwikkeling in Noordwes het beslag gelê op drie jagluiperds op ‘n wildplaas naby Bray omdat hul kampe nie aan standaarde voldoen het nie.
Luidens ‘n verklaring is die diere van die plaas verwyder nadat die eienaar glo nie aan waarskuwings in dié verband gehoor gegee het nie.
Omgewingsinspekteurs en Polisiebeamptes het die plaas in die Molopo munisipale distrik besoek, en daar is beslag gelê op die diere waarna hulle na ‘n veilige kamp geneem is.
Wildheinings nie op standaard
Volgens mnr. Tshepo Moremi, hoofdirekteur van omgewingsake by die departement, is die boer verskeie kere gewaarsku dat sy heinings nie aan standaarde voldoen nie en dat dit verander moet word of die diere sou verwyder word.
“Die boer het die aanbevelings bly ignoreer, wat die departement daartoe gedwing het om die hulp van ‘n hof in te roep en ‘n hofbevel vir die deursoek van die eiendom asook die beslaglegging is in die Vryburg-landdroshof toegestaan,” verduidelik Moremi.
Boete van R10 miljoen?
Die boer staan tans glo tereg op drie aanklagte vir die oortreding van die Nasionale Wet op Biodiversiteit, en kan moontlik ‘n boete van tot R10 miljoen opgelê word.
Hy kan ook tronkstraf van minder as 10 jaar, of beide die boete en die tronkstraf in die gesig staar.
Volgens Moremi sal die diere in die veilige kamp aangehou word totdat die hofsaak afgehandel is.
Die departement sê intussen is leeus en luiperds ook van ‘n plaas in die Stella-omgewing naby Vryburg verwyder omdat die diere se kampe se heinings ook nie aan standaarde voldoen het nie.
29 September 2010