
Clover het 'n sentrum by sy Clayville-aanleg in Midrand geopen waar besoekers kan leer hoe melk van die plaas af tot op die winkelrak kom.
Mnr. Johann Vorster, uitvoerende hoof, het met die opening van die besoekersentrum gesê dit was lank 'n droom van hom om so iets te bou, veral nadat hy soortgelykes in die buiteland gesien het. Die sentrum het R40 miljoen gekos en sluit 'n nuwe ouditorium asook verbouings by die bestaande aanleg in.
Laasgenoemde maak dit vir besoekers moontlik om op 'n hoër vlak deur vensters te kan kyk wat op die fabrieksvloer gebeur. Van die produkte wat by die Clayville-fabriek vervaardig word, sluit vars melk en Tropika in.
Besoekers leer onder meer hoe gereeld melk getoets word om seker te maak dit is veilig, hoe die verpakkingsproses werk, en hoe produkte dan geberg en versend word. Die verskillende video’s waarna besoekers in die ouditorium kan kyk, is op verskillende gehore gerig, van laerskoolkinders tot aandeelhouers.
Oop vanaf Februarie
Die sentrum sal vanaf Februarie 2017 vir besoekers oop wees. Groepe van 20 tot 40 mense kan twee keer per dag, op vier dae van die week, die sentrum besoek.
Besprekings hiervoor sal aanlyn op Clover se webblad gedoen kan word.