Een van die kleurrykste karakters in die skaap- en wolbedryf, mnr. Jan Petrol du Toit (74) van Jeffreysbaai, is oorlede.
Jan Petrol, soos hy alombekend was, het diep spore in die wolbedryf getrap: Hy het die skaap- en wolkursus aan die Landboukollege Grootfontein geslaag en toe veral naam gemaak as skaap- en woldeskundige in die distrik van Richmond en in die Karoo. Hy is later na BKB se hoofkantoor in Port Elizabeth verplaas en het daarna die destydse Wolex-kantoor op Cradock bestuur.
Hy is daarna as hoofbestuurder van die Merinotelersgenootskap van SA (nou Merino SA) op Graaff Reinet aangestel tot met sy aftrede in 1996, waarna hy en sy vrou, Ansie, op Jeffreysbaai afgetree het.
Du Toit is vroeër die week dood in hul huis in ‘n aftree-oord aangetref. Hy word oorleef deur sy vrou en twee kinders, Charl en Salome, en vier kleinseuns.
Die begrafnis is Donderdag, 6 Januarie om 11:00 in die NG Kerk Da Gama op Jeffreysbaai.
4 Januarie 2011