
Goeie nuus vir Namibië se 7000 kommersiële boere: Hulle hoef geen grondbelasting vir 2012/’13 te betaal nie: ’n Uitmergelende droogte het hulle toe geteister.
Mnr. Derek Wright, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie, het die aankondiging op die jaarvergadering van die land se Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) in Windhoek gedoen.
Boere het spontaan hande geklap toe hy vertel Namibië se nasionale vergadering het Woensdag besluit om die boere van daardie moeilike jaar se grondbelasting te onthef. Die minister van grond en hervestiging, mnr. Alpheus !Naruseb, het volgens die koerant Republikein die nasionale vergadering se eenparige goedkeuring vir die kwytskelding gekry.
Die regering verbeur sowat R40 miljoen aan belastinggeld. Boere wat die belasting reeds betaal het, sal vir die volgende belastingjaar krediet daarvoor kry, terwyl boere wat hul grond intussen verkoop het, ’n terugbetaling kan vra.