
Die Tesourie sal in die toekoms veel meer uit trustbelastings kan verdien as die Parlement die Wysigingswet op Belastingwette vir 2016 aanvaar, wat pas by die Parlement ingedien is.
Boedelbelasting beloop jaarliks maar R1 miljard van Suid-Afrika se algehele jaarlikse inkomste van R1,1 biljoen.
Die wysigingswet beoog om belastingbetalers se vermoë om welvaart belastingvry oor te dra, te beperk met reëls wat bepaal wanneer rentevrye lenings of lenings onder die markkoers wat aan trusts gemaak word, as donasie-aftrekkings geëis kan word.
Indien die wysigings goedgekeur word, sal dit aanstaande Maart in werking tree.
Van die voorstelle is:
* ’n Trust mag nie belastingaftrekkings eis vir die terugbetaling van rentevrye lenings nie.
* By lenings aan trusts met rentekoerse laer as markwaarde, kan die trust slegs die rentebetalings onder die markkoers as ’n aftrekking eis.
* Waar iemand verbonde aan die trust, soos ’n begunstigde of dié se familielid, ’n rentevrye lening aan ’n trust maak, moet ’n markverwante rentekoers (dit is tans 8%) op die lening betaalbaar wees. Die trust sal nie dié rente van sy belasting kan aftrek nie. Die geldskieter sal egter vir die rente belas kan word, en as die geldskieter nie dié rente binne drie jaar verhaal nie, sal dit as ’n skenking aan die trust gesien word en as skenkingsbelasting teen ’n koers van 20% belas word.
Die wysigingswet volg op die Davis-belastingkomitee se ondersoek verlede jaar na hoe boedelbelasting gemoderniseer en trusts belas kan word om belastingontwyking te voorkom.
Die staande komitee op finansies sal openbare sittings oor die wetgewing hou, waarna hy sal besluit of die wysigings aanvaar of verder gewysig moet word.
Naskrif: Joylene van Wyk werk aan 'n opvolg-berig hieroor. Sy sê dié berig is 'n baie vereenvoudigde verduideliking (soos wat van die kommentare hieronder aandui) en dis baie meer kompleks as dit. Ons publiseer die berig binne dae op Landbou.com. – Webred.