Die ANC-jeugliga se strewe na die onteiening van grond sonder vergoeding is tiperend van mense wat geen ontsag vir hul eie of ander se eiendom het nie.
Só sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, oor die jeugliga se planne om “ekonomiese vryheid” te verkry deur die nasionalisering van myne en die onteiening van grond sonder vergoeding. Möller meen onteiening sonder vergoeding is ’n manier van vernietiging.
“Hoe kan daar voortgegaan word om welvaart in die land te skep as daar mense is wat dit wil vernietig?” vra hy.
Leiers moet die leiding neem
Möller sê dit is juis die leiers van die jeug wat ’n verantwoordelikheidsin moet hê en moet strewe na ’n toekoms om welvaart te skep en hulle nie na bandeloosheid wend nie.
“Leiers op enige vlak moet uit ’n morele gesagsposisie lei. Daar moenie beskuldigings wees van korrupsie of bedrog nie.”
Mnr. Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, het luidens ’n verklaring aangedui dat die liga met broederorganisasies gaan vergader om ’n gesamentlike program vir ekonomiese vryheid op te stel.
Protesaksie
Die jeugliga wil protesaksie oor die hele land van stapel stuur om uiting te gee aan sy oproepe vir ekonomiese vryheid, gratis onderwys en om die kwessie van werkloosheid onder die jeug te pak.
Die liga beoog optogte na onder meer die kantore van Agri SA, die Kamer van Mynwese, die JSE Bpk. en die Uniegebou.
Daarop sê Möller dat Agri SA sal verkies dat die jeugliga ’n afspraak met hom (Agri SA) maak as die liga landboukwessies wil bespreek.
“Optogte is nie ons styl nie, maar dit beteken nie dat ons nie waardering het vir goeie danspassies nie,” het hy gesê.
25 Augustus 2011