
Mnr. Jacques van Heerden, hoof van regs-, sekretariële en strategiese projekte van Clover, sê dit is markte met hoë marges. Hy sê die ooreenkomste wat met Dairybelle gesluit is, strook met sy strategie om sy portefeulje van waardetoegevoegde verbruikersgoedere asook dié met handelsmerkte uit te brei.
“Die verkryging van die jogurtgeriewe in Bloemfontein en die UHT-produksiegeriewe in die Wes-Kaap sal ons nie net ’n onmiddellike vastrapplek in die jogurtmark bied nie, maar dit ook vir ons moontlik maak om ons doeltreffendheid te verbeter deur die verbeterde gebruik van die aanbod van ongepasteuriseerde melk in die streek.”
Clover kan die nuwe markte betree nadat hy vroeër in 2014 bekend gemaak het dat hy ’n kontrak met Danone gaan beëindig. Die Mededingingstribunaal het die verkryging van die Dairybelle-geriewe einde November op sekere voorwaardes goedgekeur, nadat die Mededingingskommissie dit vroeër die jaar ook voorwaardelik aan die tribunaal aanbeveel het.
Van Heerden sê kragtens een van die voorwaardes sal Clover en al sy filiale, soos bepaal in ’n ooreenkoms tussen Clover en Danone, tot 30 Junie 2015 voortgaan om Danone van sekondêre verspreidings- en pakhuisdienste te voorsien. Die tribunaal het ook ’n voorwaarde opgelê dat Clover, sy filiale en Dairybelle vir drie jaar vanaf die tribunaal se goedkeuring van die verkryging geen werkgewer weens die verkrygingmag aflê nie.
Van Heerden sê laasgenoemde voorwaarde sluit die volgende uit: vrywillige skeidingspakkette, vrywillige aftreepakkette en onredelike weierings om herontplooi te word, soos bepaal in die Arbeidsverhoudingewet. Hy sê Clover oorweeg om teen die voorwaarde oor werknemers te appelleer, maar teen druktyd kon hy nie besonderhede gee nie.