
’n Boer van Potchefstroom, mnr. Jannie Keet, is vanjaar se wenner van die verhandelingsmaatskappy, BVG, se verskansingskompetisie waaraan 178 mense deelgeneem het.
Die wenners van die kompetisie, wat in samewerking met BKB Grainco, die JSE en Landbou.com aangebied is, is op ’n gala-aand in Pretoria bekend gemaak. Die kompetisie was daarop gemik om boere en belangstellendes meer vertroud te maak met die gebruik van die afgeleide instrumente op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) om risiko’s mee te bestuur.
Deelnemers moes die verskansing van ’n fiktiewe 2 200 ton wit mielies vir lewering in Julie vanjaar van ’n boer in die omgewing van Bultfontein doen. Verskillende verskansingstrategieë moes gevolg word om die hoogste moontlike wins te maak.
Keet, wat ’n gemengde boerdery tussen Potchefstroom en Ventersdorp bedryf en ook in Agri Noordwes se bestuur dien, het R20 000 se prysgeld ontvang. In die tweede plek was mnr. Francois Duminy van Reitz met R15 000 se prysgeld en derde mnr. Wesley Petzer van Johannesburg wat R10 000 ontvang het.
Boere, studente, huisvroue, rekenmeesters
Deelnemers aan die kompetisie het gewissel van boere en huisvrouens tot rekenmeesters, boerdery-konsultante en studente.
Tydens die gala-geleentheid is ’n afgeleide instrument waarmee boerderye en ander ondernemings hulle teen weersomstandighede kan verskans, ook bekend gestel. BVG is die eerste maatskappy om só ’n produk kommersieel in Suid-Afrika te bemark.
Mnr. Hans Smit, risiko-ontleder van BVG, sê hul weerindeks-afgeleides is ’n manier om die risiko wat weersomstandighede inhou, te bestuur en werk soos gewone afgeleide instrumente. ’n Koper besluit watter weersomstandighede, hetsy reënval of temperatuur, hy verkies en neem ’n opsie daarop uit. Dit word onder die handelsnaam WeatherInDe (Weather Index Derivatives) bemark.
Die kompetisie is ook in 2015 aangebied.
Byskrif: Die wenners van BVG se verskansingskompetisie was van links mnre. Francois Duminy van Reitz (tweede), Jannie Keet van Potchefstroom (eerste), Chris Venter, besturende direkteur BVG, en Wesley Petzer van Johannesburg (derde). Foto: Nico van Burick