’n Jong boer wat vooruit wil boer, sal die onbestendigheid van graanmarkte en die wisselkoers sy beste vriende moet maak, want dié onbestendigheid is die nuwe norm.
Só meen mnr. Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes. Strydom het gepraat op Senwes se Jongboer-toekomsfokusdag wat onlangs op Nampo-park, buite Bothaville, aangebied is.
Jong boere soek kennis
Volgens ’n verklaring van Senwes is die goeie opkoms op dié geleentheid ’n teken dat jong boere kennis wil inwin om die huidige uitdagings in die landbou goed te bestuur.
Strydom het gesê dat voedselsekerheid nie die boer se verantwoordlikheid is nie, maar die Regering se verantwoordelikheid.
“? Boer se verantwoordelikheid is om sy toekoms te beplan en geld te maak, net soos in enige ander beroep,” aldus Strydom.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, sê die georganiseerde landbou het jong boere se deelname en ondersteuning nodig om die landbousektor vorentoe te neem. Jong boere het ook ’n belangrike rol te speel in onderhandelinge met die Regering.
Talle uitdagings
Intussen word boere deur baie uitdagings in die gesig gestaar. Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus en bekende landbou-ekonoom, sê landbouproduksie sal teen 2050 met sowat 70% moet toeneem om in die groeiende vraag na voedsel te voorsien.
Hy sê daar is alternatiewe oplossings as die Regering se beleid boere in die steek laat.
Van dié oplossings is agribesighede wat elders in Afrika kan belê, die Grondwet wat gebruik kan word om sekere punte tot die Regering te laat deurdring en die samewerking tussen boere, die provinsiale regering, munisipaliteite en ander betrokkenes wat die landbousektor meer mededingend kan maak.
26 September 2011