
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê Cunningham is nie net die wenner van dié kompetisie nie, maar ’n ambassadeur vir jong boere in die Wes-Kaap.
Hy sê hoewel vanjaar se deelnemers almal sterk kandidate was, het Cunningham aan die kompetisie se streng kriteria voldoen. Hy sal die Wes-Kaap verteenwoordig wanneer die nasionale wenner van Toyota SA en Agri SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys word.
Cunningham sê die kompetisie plaas die kollig op die landbousektor se bydrae tot die samelewing en die rol wat jong boere daarin speel. Jong boere is veral belangrik aangesien hulle die 20% tot 30% van boere wat die sektor wil verlaat, moet opvolg.
“Hierdie kompetisie is harde werk en baie pret. Dit is goed om ’n geleentheid te kry om jouself teen jou ander jong boere te meet en te hoor wat hul perspektief op die sektor is.”
Die landbousektor is volgens hom ’n besondere sektor om in te wees, nie net omdat dit die nasie voed, maar ook ingespan kan word om verskeie maatskaplike kwessies op te los danksy die landbou se vermoë vir onder meer werkskepping en bemagtiging.
Hy sê jong boere is ’n bate vir die bedryf omdat hulle nie bang is vir verandering of om “hoekom” te vra nie. “Jong boere vra hoe dinge beter gedoen kan word. Ons jaag ook tegnologie en toegang tot inligting na. Ten opsigte van die vind en benutting van uitstekende dier- en plantteelmateriaal maak ons ook merkwaardige vordering.”
Hy sê die jonger generasie soek onmiddellike bevrediging en verandering. Dit sal volgens hom as dryfveer in die sektor dien en verseker dat opbrengste sal aanhou verbeter.
Daar is egter ook kwessies wat jong boere in die toekoms sal moet aanpak. Die grootste kwessie is die moontlikheid van grootskaalse hongersnood – iets wat sy generasie nog nie ervaar het nie. “Dit tesame met klimaatsverandering, waaraan ons nie veel kan doen nie, is ’n verdoemende vooruitsig. Wat laasgenoemde betref, is daar middele tot ons beskikking, soos nette om gewasse te beskerm, maar ons moet die omstandighede vat wat die natuur vir ons gee, en ons bes doen om nie klimaatsverandering te vererger nie.”
Cunningham sê die landbousektor is die sektor in die ekonomie waarsonder die ander sektore nie kan bestaan nie. Daarom het hy so ’n sterk verbintenis tot die landbou ten spyte van die probleme wat ’n mens in die sektor teëkom.
“Daar is probleme in elke ander sektor. Wat belangrik is, is hoe jy te werk gaan om hulle aan te pak. Dit is baie lonend om in die landbousektor te wees, want jy het ’n direkte impak op mense se lewens.”
Cunningham het aanvanklik in die finansiële bedryf gewerk en in 2013 begin boer. Hy sê die moeilike geboorte van sy eerste seun in 2018 het hom met sagter oë na boerdery laat kyk. Hy het ook meer holisties na die landbou en die rol wat dit in die samelewing speel, begin kyk.
Hy sê die feit dat hy as wenner aangewys is, is eintlik te danke aan sy personeel. “Ek is net die rentmeester. Ek het my hand op die stuurwiel, maar eintlik is dit hulle wat die werk doen. Indien ’n boer na sy mense omsien, maak die lojaliteit en vertroue wat jy by hulle kry, alles die moeite werd.”