Die name van die vier jong kaasmakers wat later vanjaar by Franse kaasmeesters gaan kers opsteek, is tydens die DuPont Qualité-toekenningsaand op Stellenbosch bekend gemaak.
Mes. Alba Lamprecht-Pfaff van Nuwehoogte en Jackie Davids van Anysbos asook mnre. Michael Visagie van Fairview en Marlon Visagie van Portobello sal die kaasmaakkursus, wat deel is van ’n samewerkingsooreenkoms tussen die regerings van die Wes-Kaap en Boergondië, bywoon.
Mnr. Marlon Visagie van Portobello, me. Alba Lamprecht-Pfaff van Nuwehoogte, me. Joyene Isaacs, hoof van die departement van landbou in die Wes-Kaap, me. Jackie Davids van Anysbos en mnr. Michael Visagie van Fairview. Die vier kaasmakers gaan binnekort Frankryk besoek om meer te leer van die kaaskuns. Foto: VERSKAF
Dit is gepas dat die name op Stellenbosch aangekondig is, want dit is die tweede dorp in Suid-Afrika waar melk vir kommersiële doeleindes gebottel is. Dit is ook die eerste dorp waar Franse kase geproduseer is – deur Duitsers!
Die projek is reeds in 2005 van stapel gestuur en sedertdien is reeds 28 kaasmakers vir die drie weke lange kursus Frankryk toe gestuur. Dit is ’n praktiese kursus wat ook modules oor bemarking en bedryfsverwante kwessies insluit.
“Ek kan sien hoe die kaasmakers gegroei het sedert hulle hierdie geleentheid gegun is,” het mnr. Kobus Mulder, hoofbeoordelaar van die SA Suiwelkampioenskapsbyeenkoms, oor die inisiatief gesê.
“Hulle het nuwe kennis oor kaasmakery opgedoen en ook hul persoonlike hoedanigheid uitgebou.”
Jonger kaasmakers
Volgens mnr. Marius Paulse, direkteur van die program vir gestruktureerde landbou-opvoeding en opleiding by die Wes-Kaapse departement landbou, lok die groeiende aantal kaasmakerye in dié provinsie jong mense na die bedryf toe.
“Die Wes-Kaap produseer meer as 50% van Suid-Afrikaanse kaas en hierdie program bied die beurswenners die opleidingsgeleentheid om ook kase met ’n kontinentale styl te bemeester,” sê hy.
Die bedryf vind baie baat by die nuwe kennis wat in Frankryk ingewin word. Nie net het heelwat nuwe kase al deur dié opleidingsgeleentheid die lig gesien nie, maar produksiemetodes is ook verbeter en vervaardigingsaanlegte opgeknap.
Mulder sê vanjaar se studente is toegewyd met ’n goeie begrip van kaasmakery. Hy glo hulle toon potensiaal om selfs beter kaasmakers in die toekoms te word.
26 April 2012