
’n Sakeplan is die eerste ding wat mnr. Hasie Haasbroek van mnr. Tiro Mongwaketsi vereis het toe Mongwaketsi hom genader het om leiding en mentorskap. Mongwaketsi, wat naby Vryburg boer op grond wat hy by die staat huur, het Haasbroek genader om hulp terwyl hy ’n student in dieregesondheid aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) was. Die kursus bepaal dat Mongwaketsi prakties op die plaas moet werk en boer as deel van sy studie. Haasbroek het gesê hy sal Mongwaketsi met raad kan bystaan. Die eerste groot opdrag was dat Mongwaketsi ’n sakeplan moes opstel.
“Die eerste een wat hy gebring het, was maar wankelrig. Die tweede een het beter gelyk, maar met die derde een kon ons werk,” vertel Haasbroek. “Nadat ons ’n rukkie met dié plan besig was, het Tiro vir my gesê: ‘Maar meneer, met dié plan kan ek deurkom en nog so ietsie oorhê ook.’ ”
Mongwaketsi het in November 2008 begin om met 120 beeste wat hy van sy ouers geërf het, te boer. Vandag het hy 156 beeste, onder meer vier Bonsmara-bulle.
Groot drome
Mongwaketsi, wat vanjaar as die Vryburg Boerevereniging se Jongboer van die Jaar aangewys is, sê hy het groot drome vir die toekoms. “Ek sien myself op lang termyn as ’n Bonsmara-stoetboer.” Hy sê hy wil graag in Haasbroek, wat al 43 jaar lank met Bonsmaras boer en ’n bekende in landboukringe is, se spore volg.
Die grootste probleem wat Mongwaketsi het, is dat hy die grond waarop hy boer, slegs by die staat kan huur. Die kontrak wat hy met die staat het, is vir drie jaar sonder die opsie om te koop. Die vorige kontrak was vir vyf jaar lank met die opsie om te kan koop. Mongwaketsi sê hy sou graag die grond wou koop sodat hy dit behoorlik kan ontwikkel.
Mongwaketsi sê hy word met sy navrae by die departement van landelike ontwikkeling in Noordwes van bakboord na stuurboord gestuur. Landbou.com wag tans op terugvoer van die departement.