
Danksy ’n boer wat daarin glo om sy werknemers se potensiaal te ontwikkel en die Future Farmers-projek, vertrek ’n leergierige, passievolle plaaswerkerseun binnekort na Australië om ’n jaar lank landbou-ervaring te gaan opdoen in dié voorste landbouland.
Mnr. Christie Maritz (28) van Prieska gaan op ’n plaas suidoos van Numurkah in Victoria, Australië, indiensopleiding ontvang en “kyk hoe dinge werk”. Daar word onder meer 300 Jerseykoeie op die suiwel- en groenteplaas gemelk.
Christie is die jongste spruit van mnr. Karools en me. Katriena Maritz, wat sedert 1992 as algemene werkers op die plaas Lowerland naby Prieska gewerk het. Hy het in 2004 op Prieska gematrikuleer (met ’n paar A-simbole) en hy het daarna ’n landboudiploma aan die Landboukollege Grootfontein voltooi. Sy ouers en mnr. Hennie Coetzee, Lowerland se eienaar en Noord-Kaapse Boer van die Jaar, het hom finansieel bygestaan.
“Alles het so mooi uitgewerk en die Here het voorsien. Op Grootfontein het ek lief geraak vir die boerdery en vandag wil ek nie iets anders doen nie. Ek wil eerder met ’n trekker as ’n Mercedes rondry. My ouers het dit nie breed gehad nie, so hulle is vandag verskriklik trots op my.”
Hy gee toe hy is effe skrikkerig vir al die onbekende dinge wat voorlê. “Maar dis die ondervinding van ’n leeftyd en ek kan so baie leer, so ek sal eers die bang opsy skuif. Baie mense sê my jy werk veral hard in die buiteland, maar ek kla nie daaroor nie. Al hoe ’n mens iets in die lewe bereik is deur harde werk.”
Hy het eers as voorraadbestuurder op Lowerland gewerk en daarna die drankwinkel op Prieska bestuur.
“Bertie (Hennie se seun) het my op ’n dag kom vertel hy het in Landbouweekblad van die Future Farmers-projek gelees en vir me. Judy Stuart ontmoet. Hy het my gevra of ek belangstel in die geleentheid, maar ek dink hy’t toe al die antwoord geken.”
Volgens Bertie is vaardigheidsontwikkeling kernbelangrik vir die landbou. “Dis die enigste antwoord. Daar rus baie op Christie se skouers. Ek dink hy gaan terugkom en homself kom vestig, maar dis ook ’n groot uitdaging vir ons om dan vir hom die regte geleenthede teen die regte vergoeding te skep.”
Me. Stuart, wat die Future Farmers-projek al amper nege jaar lank dryf, beskryf Christie as “ ’n baie goeie seun. Hy is uiters intelligent en hardwerkend,” sê sy.
Stuart, ’n melkboer van Curry’s Post buite Howick, plaas jong mense wat wil boer as vakleerlinge op kommersiële plase. Dié wat presteer, kry die geleentheid om ná sowat twee jaar se opleiding op Suid-Afrikaanse plase vir ’n jaar in kommersiële boerderye in Amerika en Australië te gaan werk.
“Jy weet, die oorsese ervaring is ’n tamaai uitdaging vir die jongklomp. Dis nie die werk nie, maar dis ’n uitdaging om skielik in ’n eerstewêreldse omgewing te leef en gewoond te raak aan ’n heel nuwe werksetiek. Diegene wat die geleenthede aangryp, kry absoluut fenomenale resultate. Ek moet die gehalte van hierdie kinders benadruk. Christie was bevoorreg om te kon studeer, maar die meeste van hulle kom reguit ná skool, dikwels sonder matriek, na my toe, maar hulle het ’n werklike passie vir die boerdery. Hierdie land het toegewyde, suksesvolle kommersiële boere nodig en hierdie jongklomp sál suksesvol wees.”
Die sokkermal Christie sien uit na die nuwe vriende van ander lande wat hy gaan maak, die kans om ’n nuwe taal aan te leer en “dalk kan ek selfs ’n wêreldbeker-krieketwedstryd gaan kyk”. Maar sy wortels bly in Suid-Afrika. Daarvan getuig die skootrekenaar vol Afrikaanse musiek van Jay en Lianie May wat hy met hom saamneem na die land Doer Onder. “Maar ek luister ook na Zinkplaat (die rock-groep waarvan Bertie hoofsanger was)!”