
’n Tragiese toneel het Vrydag in Standerton, Mpumalanga afgespeel toe ’n jong seun en sy tannie wat hom probeer red het, in ’n mielie-silo omgekom het.
Die Standerton Chronicle https://bit.ly/3NBrkjV berig dat die 13-jarige Kerneels Rautenbach en sy tannie, die 33-jarige, Jackie Rautenbach oorlede is in ’n mielie-silo.
Volgens die berig het Kerneels in die silo op die plaas geval waarna hy in die mielies weggesink het. Die gemeenskap en bure het die familie te hulp gesnel, maar Kerneels is egter op die toneel dood verklaar. Jackie, ’n ma van twee, is oorlede in die silo na sy vir Kerneels probeer red het.Beide die ambulans en polisie is na die toneel ontbied.
Verskeie boodskappe van medelye is vanoggend op Kerneels se ma, Selmari Rautenbach, se Facebookblad geplaas.Laerskool Standerton, waar Kerneels op skool was, het ook hulle medelye met die Rautenbach-familie uitgespreek.“Ons groet ’n spesiale Stannie-leerder. Ons harte is seer, ons woord is min. Kerneels Rautenbach, in jou kort rukkie saam met ons op aarde, het jy baie harte aangeraak. Jy sal onthou word vir die pragtige seun met die mooiste hart. Ons Stannies gaan jou mis. Rus in vrede Kerneels. Jackie was ’n Mamma van een van ons Graad 5-leerders. Rus in Vrede Jackie. Jy was so dapper.”