
Die drie kandidate is mnre. Hansie Müller (36) van Viljoenskroon, Hennie Geldenhuys (37) van Excelsior en Lukas Lessing (26) van Marquard.
Müller boer reeds die afgelope 18 jaar, waarvan sewe jaar op sy huidige plaas wat hy self gekoop het. Hy bedryf ’n voerkraal en saaiboerdery saam met sy vrou, Adrie. Hy glo daaraan om nie noodwendig die grootste nie, maar die beste te wees en leef dié leuse in sy boerdery uit.
Hy is by verskeie gemeenskapsprojekte in sy omgewing betrokke, want hy glo dat kinders elke aand ’n bord kos moet hê. Müller is ’n lid van die brandvereniging en is ook by landelike veiligheid betrokke.
Geldenhuys, ’n saaiboer en stroopkontrakteur, boer “reeds van kindsbeen af” en het ’n liefde en passie vir wat hy doen. Hy glo dat jy die vrugte pluk van jou harde werk en is daarom nie bang om moue op te rol en self in te spring nie.
Sy familie bedryf ’n stroopkontrakteur-onderneming waarvan hy die besturende direkteur is. Dan is hy ook lid van die plaaslike veiligheidsektor wat gereeld saam met die polisie patrollie ry. Hy en sy vrou, Franciske, ondersteun die plaaslike kleuterskool, kerke en gemeenskapaksies.
Lessing boer al 10 jaar en wil niks anders doen nie. Hy meen die feit dat sy pa hom van jongs af betrek het by besluitneming en hom vryheid gegee het, het gunstige resultate gelewer.
Hy is tans die hoofbestuurder van die familietrust. Hy bedryf hoofsaaklik ’n saaiboerdery (mielies, soja en sonneblom), asook ’n kleiner veevertakking.
Lessing en sy vrou, Marné, is betrokke by hul plaaslike kerk, asook die plaaslike aftree-oord en hy huiwer nie om self plaaspaaie te skraap waar dit nodig is nie. Hy glo daarin dat sy werkers voordeel trek uit hul bydrae tot die boerdery, dat hulle versorg word en hul werk geniet.
Die Vrystaatse wenner word op 18 April 2023 in Bloemfontein aangewys en dring outomaties deur tot Agri SA en Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.