
Jooste is tans die hoof van die markte- en ekonomiese navorsingsentrum by die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) en sal op 1 November by ASA se span aansluit.
Mnr. Ernst Yssel, voorsitter van ASA, is baie opgewonde om ’n man van Jooste se kaliber aan te stel. ‘‘Ek sien uit na die samewerking. Ons wil graag die aartappelbedryf tot nuwe hoogtes toe voer en Jooste se profiel pas daarby aan. Die aartappelbedryf is ’n dinamiese bedryf en ek weet Jooste sal goed daarby inskakel.’’
Jooste volg mnr. Mark du Plessis op. Du Plessis het ASA vroeër vanjaar verlaat om as handelshoof by die landboumaatskappy GWK aan te sluit.
‘‘Ek het lekker saam met Du Plessis gewerk en ek glo dat ons ook lekker met Jooste sal saamwerk,’’ sê Yssel.
Dié pos sal nuwe uitdagings aan Jooste, een van die land se voorste landbou-ekonome, stel. Die pos sal van hom vereis om met boere en die mense in die res van die waardeketting te skakel en hy sal ook die personeel moet bestuur.
Jooste is veral bekend as ’n ekonoom met ’n passie vir die rooivleisbedryf, maar Yssel meen nie dat dít ’n probleem sal wees nie. ‘‘Die onderliggende kwessies bly dieselfde vir alle voedselsoorte.’’
Meer inligting sal eersdaags in Landbouweekblad verskyn.