
Die JSE het sy besluit oor die suikermaatskappy Dinsdagmiddag aangekondig. Dié aankondiging volg op die maatskappy se aansoek vroeër die week wat hy by die JSE ingedien het en waarvolgens daar gevra is vir die vrywillige tydelike opskorting van verhandeling in aandele.
Die JSE se besluit om verhandeling in die maatskappy se aandele op te skort, is egter nie as gevolg van Tongaat Hulett se aansoek nie.
Volgens die JSE se aankondiging oor die opskorting is die aandelebeurs nie tevrede met Tongaat Hulett se voorleggings vir die aansoek om tydelike opskorting nie, en het dit daarom van die hand gewys.
Die JSE sê hoewel die aansoek noukeurig oorweeg is, het die voorleggings nie voldoen aan die bepaalde vereistes nie. Die opskorting geskied dus nie as gevolg van Tongaat Hulett se aansoek nie.
“Die notering van sekuriteite van die maatskappy is opgeskort weens sy versuim en/of onvermoë om te voldoen aan belangrike bepalings van die noteringsvereistes,” luidens die JSE se aankondiging. Dié stap word gedoen in die openbare belang, asook dié van aandeelhouers, aldus die verklaring.
Die JSE het reeds op 15 Julie aangekondig Tongaat Hulett is op dun ys wat verhandeling in sy aandele betref aangesien die maatskappy nie sy voorlopige finansiële resultate binne ’n vereiste tydperk van drie maande kon indien nie.
Volgens die JSE is Tongaat Hulett ingelig oor ’n voorgestelde opskorting. ’n Beroep is ook op die maatskappy gedoen om redes te verskaf waarom verhandeling nie opgeskort moet word nie.
“In sy antwoord het die maatskappy geen redes aangevoer waarom sy sekuriteite nie opgeskort moet word nie. Die maatskappy het ook bevestig dat hy ‘geen beswaar’ teen die voorgestelde opskorting van die notering het nie.”
Finansiële resultate
Intussen het Tongaat Hulett aangedui sy jaarlikse finansiële resultate sal nie teen die verstrykdatum van 30 Julie uitgereik word nie.
Tongaat Hulett sê in sy verklaring die opskorting sal “geen wesenlike impak op die maatskappy se finansiële stabiliteit of sy sakebedrywighede hê nie, en die maatskappy verwag dat verhandeling in sy aandele heringestel sal word sodra finansiële resultate gepubliseer is”.
Geen datum is egter gegee wanneer die finansiële resultate bekend gemaak sal word nie. Die maatskappy wat met ’n skuldlas van ongeveer R6,8 miljard spartel, het aangedui daar word gewerk aan ’n herstruktureringsoplossing om hom uit sy benarde posisie te help. Volgens aanduidings sal die plan teen einde September aan die direksie voorgelê word.
Tongaat Hulett is die afgelope maande in die nuus oor sy aanbod van regte-uitgifte ter waarde van R5 miljard waarmee daar gehoop is om van die skuldlas te delg. ’n Aanbod van Magister Investments vir R2 miljard daarvan is intussen van die hand gewys ná die oornameregulasiepaneel teen ’n resolusie van Tongaat-aandeelhouers beslis het.
Magister Investments het belange in die landbou, vervoer en eiendom, en behoort aan die Zimbabwiese sakeman mnr. Hamish Rudland. Hy is die broer van mnr. Simon Rudland, eienaar van die Gold Leaf Tobacco Corporation.