
“Die bekendstelling van Operasie Phakisa op Vrydag, 24 Februarie, deur pres. Jacob Zuma en die Ministers van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, is die resultaat van wydverspreide konsultasie en omvattende betrokkenheid oor 'n tydperk van ses maande tussen die georganiseerde landbou, regeringsamptenare, landboukenners, werkersunies, nie-regeringsorganisasies, staatsentiteite en verskeie ander belanghebbendes met gevestigde belange in die landboubedryf,” sê Agri SA in 'n nuusverklaring.
(Die verklaring volg op Zuma se aankondiging by die bekendstelling van Operasie Phakisa, dat die Regering grond wil vat sonder vergoeding.)
“Sewe werkende groepe is gestig en het met 27 implementeerbare en pragmatiese inisiatiewe vorendag gekom wat gerig is op die groei en transformasie van die landboubedryf. Hierdie proses het plaasgevind onder beskerming van die presidensie en 'n reeks spesialiste het verseker dat elke inisiatief prakties uitvoerbaar, volhoubaar en kommersieel lewensvatbaar is.
Vennootskappe met private sektor
“Hierdie inisiatiewe is gegrond op vennootskappe met die private sektor en sal die einddoelwitte, soos uiteengesit in APAP, sowel as hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkelingsplan, help realiseer.
“Operasie Phakisa bied 'n gulde geleentheid vir alle belanghebbendes in die landboubedryf om die sektor na 'n nuwe vlak te neem wat betref groei, stabiliteit, inklusiwiteit, mededingendheid en winsgewendheid.
“Agri SA doen dus 'n beroep op pres. Zuma en die ministers verantwoordelik vir die landbou en grondhervorming om alle hulpbronne te optimaliseer om te verseker dat Operasie Phakisa suksesvol geïmplementeer word. Kwessies soos grondhervorming en transformasie in die landboubedryf is vir heeltemal te lank as 'n politieke speelbal gebruik en geen werklike vordering is dus gemaak nie. Operasie Phakisa onderneem doelmatig 'n wetenskaplike en kommersiële metodologie om politieke uitsprake en retoriek wat geen gewig dra nie, om te skakel in 'n praktiese program wat sal verseker dat tasbare en meetbare resultate bereik word.
Sal nie kaping toelaat nie
“Agri SA is verbind tot die Phakisa-proses, maar sal nie toelaat dat dit gekaap word vir sektariese en eng politiek-belaaide agendas deur pres. Zuma of enige ander politikus nie. Ons sal ook nie toelaat dat dit ontspoor word deur onverantwoordelike politieke verklarings wat ongrondwetlik is of enige poging om wette deur die Phakisa-agterdeur te laat inglip wat 'n nadelige invloed op landbou sal hê nie. Ons sal die president in die hof sien indien enige sodanige pogings aangewend word.
“Dit is nou tyd dat die landboubedryf sterk staan en eis dat die Presidensie implementasie opskerp en alle staatsinstellings rekenvatbaar hou vir nie-implementering,” sê Agri SA.