Die landboumaatskappy Kaap Agri word eersdaags ontbondel in ’n bedryfsmaatskappy en ’n beleggingsmaatskappy.
Die beleggingsmaatskappy se naam gaan ook na Kaap Agri Voedsel verander word. Die veranderinge is onderhewig aan goedkeuring deur aandeelhouers.
Volgens mnr. James Matthee, finansiële direkteur van Kaap Agri, is die belangrikste rede vir die beoogde ontbondeling die verwagting dat aansienlike waarde ontsluit sal word in die Pioneer Voedsel-aandele, wat in Kaap Agri (hernoem tot Agri Voedsel Beperk) gehuisves word, asook die bedryfsbesigheid, wat in Kaap Agri Bedryf gehuisves word.
“Lae in ’n struktuur haal altyd waarde uit. Al twee aktiwiteite gaan nou op die voorgrond wees, en aandeelhouers behoort in ’n beter posisie te wees om hul waarde te takseer.”
Aandeelhouers gaan nie Pioneer-aandele regstreeks hou nie, maar eerder aandele in Agri Voedsel wat die Pioneer-aandele as ’n blok hou. Die belang van 28% wat Kaap Agri nou in Pioneer Voedsel het, gaan deur Kaap Agri Voedsel gehou word.
“Die eindresultaat gaan eenvoudig wees dat die huidige aandeelhouers hul aandele regstreeks gaan hou in Agri Voedsel (wat die 28% belang in Pioneer hou), en aandele regstreeks in Kaap Agri Bedryf. Die twee aandele kan dan afsonderlik oor die toonbank verhandel word,” sê Matthee.
Of die bedryfsbeen kan oorleef sonder die dividende wat jaarliks van Pioneer ontvang word, is ’n vraag wat dikwels gevra word aan landboubesighede wat ’n noemenswaardige blok aandele in die florerende voedselgroep Pioneer Voedsel hou.
Matthee se antwoord daarop is dat hulle nie die ontbondelingsproses sou aanpak as daar enigsins dáároor twyfel was nie.
“Ons eie besigheid is darem ’n R4 miljard-besigheid met ’n gesonde balansstaat.”
Die landboubeleggingsmaatskappy Zeder-beleggings hou 45% van die aandele in Kaap Agri. Kaap Agri se aandeelprys is R12,10 per aandeel.
16 September 2011