Die landboumaatskappy Kaap Agri Bpk. se wesensverdienste van R63,9 miljoen vir die ses maande tot 31 Maart is 15% hoër as die vorige halfjaarsyfers.
Dié maatskappy, wat ontstaan het nadat die Kaap Agri-groep se operasionele bedrywighede op 14 Desember van sy belegging in die Pioneer Voedselgroep geskei is, se totale omset het met 15% toegeneem tot R2,3 miljard.
Volgens mnr. James Matthee, finansiële direkteur, verwelkom hulle die toename, veral omdat omset- en veral winsgroei die afgelope twee jaar platterig was. ’n Tussentydse dividend van 9 sent per aandeel sal op 8 Junie betaal word. Hy sê dié dividend is nie vergelykbaar met vorige jare nie, aangesien die bedrywe en die belegging in Pioneer Voedsel nou geskei is in twee onafhanklike maatskappye, naamlik Kaap Agri Bpk. en Agri Voedsel Bpk.
“Die direksie het besluit om, indien omstandighede dit toelaat, die dividenddekking gaandeweg te verhoog. Indien die gunstige neiging van die afgelope ses maande voortduur, word daar verwag dat die finale dividend minstens dubbel die tussentydse dividend sal bedra.” Agri Voedsel Bpk. se dividend word ook eersdaags bekend gemaak.
Een van Kaap Agri Bpk. se toppresteerders was die handelsafdeling, wat die handelstakke en verspreiding van pakmateriaal insluit. Dié afdeling se omset het met 21% toegeneem teenoor die vorige jaar.
25 Mei 2012