Kaap Agri is vol moed dat volgende jaar ’n blink jaar vir die maatskappy en die landbou sal wees.
Hulle mik daarna om sowat R100 miljoen wins te maak. Hoewel die maatskappy se winsvlak van R78 miljoen verlede jaar “plat” was, is mnr. Sean Walsh, besturende direkteur van Kaap Agri, optimisties oor die vooruitsigte vanjaar.
Sywaartse beweging
Vanjaar was die maatskappy se koringontvangste die laagste in dekades en die uitvoer-tafeldruifoes was ook een van die swakstes in baie jare, verklaar Walsh die sywaartse beweging in winsvlakke.
“As ons kyk na die jaar wat voorlê, begroot ons ’n 23% verbetering op die eindresultate. Ons mik na ’n winsvlak van by die R100 miljoen. Alle vooruitsigte lyk goed dat ons dit kan bereik,” het Walsh by ’n geleentheid waar die onderneming se verskaff er van die jaar aangewys is, gesê.
Cape Gate Fence & Wireworks in Kaapstad is na ’n strawwe ronde van beoordeling as die maatskappy se top-verskaff er aangewys. Alle Kaap Agri-takke moes hul vyf beste verskaff ers benoem en daarna is die benoemdes vir onder meer aflewering, produkopleiding, hantering van eise, gehalte, prysbestuur en voorraadbestuur ge-evalueer. Ses kategorie-wenners is ook aangewys. Cape Gate het ook koning gekraai in die afdeling vir landbou-produksiemiddele.
Verkope klim
Volgens Walsh het Kaap Agri se verkope verlede jaar met sowat 10% geklim – ’n prestasie wat nie sonder die verskaff ers moontlik sou wees nie. Kontantverkope maak sowat 25% van die besigheid uit. Dit het van R307 miljoen in 2006 na R816 miljoen vanjaar gestyg.
“Dit wil nogal gedoen wees!” het hy gesê. Volgens Walsh lewer die maatskappy se besluit om sy voetspoor in Suid-Afrika te vergroot en na Namibië uit te brei, dividende op.
“Ons omset vir nuwe besigheid, in areas waar ons nie drie jaar gelede sake gedoen het nie, is in die omgewing van R400 miljoen tot R450 miljoen. “In gebiede waar ons in kompetisie met ’n ander maatskappy staan, is ons geneig om elke keer beter te vaar as die mededinging.”
Sterk in Namibië
Kaap Agri in Namibië het ’n omset van byna R300 miljoen gehad. “Ons markaandeel is aansienlik groter as dié van ons mededinger.” Volgens hom het die maatskappy ’n strategie om hoë groei te realiseer. Dit sluit die opening van meer takke in en hul mikpunt is om ’n nasionale verskaffer te word.
Walsh sê diegene wat bevrees was dat die ontbondeling van Kaap Agri-aandele die bedryfsmaatskappy kan seermaak, kan gerus wees. “Ons hanteer tans ’n debiteureboek van R800 miljoen tot R850 miljoen met gemak en het slegs R100 miljoen se versekureerde bates. Daar is dus plek om uit te brei.”
4 Januarie 2012