
Mnr. Jan-Hendrik Visser van die plaas Meintjieskraal by Piketberg, sê dis droog, maar hulle het in hoop begin om weidings te plant en ook die lande wat verlede jaar onder kontantgewasse was. “Die grond in die medickampe is te hard. Ons wag maar vir die reën.”
Ook by Heidelberg plant party boere in die droë grond, dog mnr. Maartin Gildenhuys van die plaas Goedemanskraal, Heidelberg, sê hy het twee kampe geplant, maar opgehou omdat dit so droog is. “Op die ligter grond kan ’n mens ’n kans waag en plant, maar op my rooi grond breek die grond kluite. Die meeste ouens wag vir die reën.”
Behalwe dat hulle in Maart net 7 mm en April 15 mm reën gekry het, het hulle nie ondergrondse vog nie omdat dit na oestyd beswaarlik gereën het. “Met dagtemperature van 35°C tot 36°C, verloor jy in elke geval enige vog vinnig.”
Die weidings is ewe treurig en hy gee al vir maande voer. Hy sê hulle het einde Januarie 40 mm donderweerreën gehad wat die lusern laat groei het, maar dit het net vir ’n paar weke gehou. Hy sê boere naby Witsand het beter reën gehad en die graan wat hulle geplant het, kom reeds op.
Langs die berg by Napier het saaityd voorspoedig begin vir boere daar, sê mnr. Kosie van Zyl van die plaas Hansieskloof. Hulle het op 10 April 17 mm reën gekry en twee weke daarna weer 25 mm. Hulle het 15 April begin plant om die voordeel van die langer dagliglengte te kry in terme van plante wat beter stoel en ’n hoër potensiaal het. Hulle behoort teen 20 of 25 Mei klaar geplant te wees.
Front op pad
Niks is seker nie, maar op die oomblik wys die wiskundige modelle dat die front wat middel-Mei “reg” gaan inkom om reën te bring, sê mnr. Giel Hugo, weerkundige van Bredasdorp. Hoewel dit te vroeg is om met groot akkuraatheid te voorspel waar dit gaan reën, lyk dit of die oostelike Overberg, by Heidelberg en Swellendam, meer reën as die Weskus gaan kry.