
Nadat milde reën sedert verlede week oor die Wes- en Suid-Kaap uitgesak het, is groot skade in die stedelike dele van Kaapstad aangerig. Op die platteland is egter nog geen reën- of waterskade aangemeld nie.
Agri Wes-Kaap het ’n opname oral in sy streek gedoen en die meeste boere het aangedui dat hulle baie dankbaar is vir die reën.
In die distrik Swellendam het van 1 mm tot 10 mm reën geval, terwyl ander dele in die Karoo geen reën gehad het nie. “Geen reën, geen sneeu, geen verliese, geen wind, baie koue,” lui die verslag uit die distrikte in die sentrale Karoo en Beaufort-Wes.
In die distrikte Stellenbosch en Paarl is onderskeidelik 80 mm en 70 mm reën gemeet en dié boere sê hulle is baie dankbaar oor die “welkome reën.”
Koring
Intussen sê mnr. Andries Theron, ondervoorsitter van Graan SA, die reën “is absoluut uitstekend vir die koring wat tans op die lande staan”. Hy sê boere is oor die algemeen dankbaar vir die reën, aangesien kommer die afgelope paar weke begin ontstaan het oor droë toestande en die invloed daarvan op aanplantings.
Dié kommer is vererger weens verwagtinge dat vanjaar se koringoes aansienlik kleiner gaan wees as verlede jaar s’n.
“Dis fantastiese reën, baie lieflik. Dis ’n absolute bonus en veral die Suid-Kaap lyk baie mooi,” sê Theron. Hy sê boere is dankbaar dat sagte, deurdringende reën geval het, want die water wat geval het, het nie af-of weggeloop nie.