
Die dertigste Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-veiling by Spier in Stellenbosch se wynlande het inkomste-rekords gebreek met verkope van meer as R11.9 miljoen. Drie wyne het ook die hoogste prys nog vir ’n kas wyn – R8 600 – behaal.
Inkomste is 42% op van 2013 se veiling en 178 kopers het deelgeneem. Tsogo Sun was vanjaar se grootste koper, terwyl mnr. Alan Pick van die Butcher Shop and Grill, Singita, Tedeum Vin Denmark en Restaurant Mosaic ook groot bedrae bestee het.
Die drie rooiwyne wat die prys van R8 600 per kas gehaal het is die Boekenhoutskloof Syrah Auction Reserve 2012, Kanonkop CWG Paul Sauer 2011 and Etienne le Riche Cabernet Sauvignon Auction Reserve 2004. Die hoogste prys vir ’n kas witwyn was vanjaar R5 600 vir ses bottels Cape Point Vineyards CWG Reserve White 2013.
"Die ongekende styging in vanjaar se pryse bevestig die hoë gehalte van ons veilingwyne en die statuur en erkenning wat die gilde geniet vannaf private wynversamelaars en vooraanstaande handelskopers," sê mnr. Andries Burger, voorsitter van die Kaapse Wynmakersgilde.
Die veiling is vir die sewentiende keer deur mnr. Henré Hablutzel van Hofmeyr Mills Veilings behartig en 2 833 kaste wyn is teen ’n gemiddelde prys van R4 210 verkoop. Die gemiddelde prys per bottel was R701.82. Daar was 156 plaaslike en 22 oorsese kopers en 90% van die wyn het na plaaslike kopers gegaan. Van die oorsese kopers het Denemarke die meeste aangeskaf, gevolg deur die Verenigde Koninkryk en Nederland.
Bo en behalwe die veiling se inkomste is R228 700 ingesamel vir die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program, ’n mentorskap-inisiatief vir jong opkomende wynmakers en wingerdboukundiges.